Friday 28 December 2012

Oujaargedagtes en dinge.


Dis drie dae voor die jaar 2012 verby is. Verby vir altyd.  Dis drie dae na ‘n mooi Kersdag in my lewe. Geseënde saamweestye. My seun wat so opreg aan die etenstafel in Engels bid: “Make us fond of You.” Een sin, diep woorde. Die resep vir ‘n vol en oorvloedige lewe!
 “Fond”…hoekom het ek nog nooit besef dat dit een van die heelmóóiste woorde in Engels is nie? Die woordeboek verduidelik:  Having a strong liking, inclination, or affection en daar word ook gepraat van:  Affectionate; tender: a fond embrace.
Daarom wil ek soos Paulus in die boek Thesalonicense dit uitjubel en sê: Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede.

Vanoggend was ek weer so dankiebly! Ek kry ‘n verrassing in my posbus. ‘n Brief van my Pa-se-neef Kosie en in die pakkie ‘n koper sleutelhouer wat hy eiehandig gemaak het. Ek kon nie wag tot by die huis om sy slakkeposbrief te lees nie. Dìt op sigself is iets besonders. Wie stuur in hierdie moderne tyd van e-posse en sms’e en bbm’s nog ‘n gewone brief? Heerlik, heerlik! Ek lees dit sommer so in die terugstap huistoe, sien in my gedagtes hoe hy die koper kersierooi met sy gasvlam maak, sien hoe hy staan en werk met die kapmes en ysterpunt om die verlangde effek te kry. In sy brief vertel hy my hoe hy te werk gegaan het. Ek hoor hom praat.

Ek lees met ‘n glimlag sy gedig:

Kopermasker

kersierooi in die vlam se gloed

hamerslae sekuur en goed

twee oë vir kyk

‘n neus vir ruik

‘n mond vir eet en drink

ryk versier

glad geskuur

gepoleer tot alles blink….
 
 

En dis myne! Ek kyk lank daarna. Agterop het hy my naam uitgekrap. En die
jaar: 2012. Kosbaar. Klein en tog groot. Ek voel skatryk oor my onverwagte
Krismisboks. 
In die akkerboom koer die dorpsduiwe. Die grassnyer dreun uit die bure se erf. Môre kom hulle terug van die see af. Dan kan hul goue Labrador weer sy spore in hulle erf trap. Hy het vir twee weke by ons loseer. Die mooiste hond met die sagste oë…het my so baie aan ons eie ou Lassa laat dink wat al lankal in die hondehemel woon. Hagar, ons swart (en ouer) Labrador, was baie verdraagsaam en geduldig teenoor die lewenslustige, stoute en goue Zulu.  Sy streke kan seker maar toegeskryf word aan sy jeug en verlange na sy mense. In ons erf het skielik gate verskyn, ‘n hele roosboom is opgekou en Hagar se kombers verflenter, maar nouja…..”fond” is en bly een van die heelmóóiste woorde.

Saturday 15 December 2012

Dis oral om ons...

 
Ek is lief vir my kamera. En ek is lief vir my tuin. Op hierdie rustige Saterdag was dit sommer net salig om met Jan Tuisbly se karretjie rond te ry en van alles en nog wat foto's te neem. Die natuur is altyd vol inspirasie! Skoonheid is oral om ons. Ons moet maar net kyk.

 
 
 
"Abstrakte skilderye" lê ons hele erf vol....nou het ek genoeg idees om iets te skilder...en ek hoop jy ook!  
 
Vier ure later:
 
 
Akriel op 'n x-straal, gedoen met die paletmes en verfkwas.
So heerlik!