Tuesday 28 May 2013

Kom na die tuin...

Rosa Rosarum
Kom na my tuin waar die donkerrooi rose
Duist’re geheime vertrou aan die nag;
Sonnestraal-kusse en suidewind-kose.
Drome en liefde die lang somerdag.
Kom in die soel someraande en luister
-Wanneer die nagwind hul drome verklaar-
Na die veelvuldige blommegefluister,
Bloesem en bloeisel en blad altegaar!
Kom waar die lelie – die blanke, die reine -
Skugter haar bloesem ontbloot aan die maan,
Blou miosotis – die slanke, die kleine -
Met haar vergeet-my-nie-ogies betraan.
Kom as die maanblom – wit sy en satyne -
As ‘n vorstin verskyn in haar prag
Onder die wierook van roos en jasmyne -
Skoonste juweel op die bors van die nag!
Daar in die vywer, bestraal deur Arjana,
Open die lotus haar heilige kelk,
Dan eers bereik sy die hoogste – Nirvana -
As sy in glorie van songloed verwelk.
Bok-bokmakieries sing bly twee gesange
Wanneer die oggend ontwaak in my tuin;
Saans koer die tortel sy lied van verlange
Bo-uit die troost’lose treurwilg se kruin.
Kom in die aand en geniet van haar geure;
Foelie, jasmyn, angelier, minjonet;
Kom in die môre en kies van haar kleure:
Rooi, wit en goud, groen en blou, violet!
Kom as die skitter van dou-diamante,
Rosa Rosarum, in my Paradys,
Dat ek my blomme, my bome, my plante,
Roos van my hart, hulle weerga kan wys!
 
A.G. Visser (ca. 1878 – 1929)
 
Dit was A.G. Visser in 'n vorige eeu....en steeds bly dit bekoorlik. Bygesê, ek is lief vir rym. Nie almal gaan saamstem nie, maar om bostaande gedig met gevoel voor te dra, die ritme, die rym, die heerlike vreugde wat in elke woord vasgeskryf is, te beleef....dit bly maar 'n lekker ervaring! Ons taal is so mooi. 
 
 
 
 
 
 
En die tuin is nog vol kleur in hierdie laatherfsdae...ek skryf ook sommer 'n gedig!
 
 
 
 

Sunday 26 May 2013

My geveerde vriende

Gister was 'n vreemde dag: blydskap en hartseer gemeng. Goeie nuus en slegte nuus op een bladsy.
Soos gewoonlik het ek troos in die tuin gaan soek en dit in oorvloed gekry. Daar was troos in die bloedrooi vere van 'n rooikophoutkapper wat sy ontbyt op die boomstomp raakgesien en geniet het,

 
in die ratsheid van 'n ou klein glasogie wat van een tak na die volgende gewip-wip het,
 
 
die komieklike vaalgrys muisvoël wat plat op sy alie kom sit en die lemoenvreugdes vir homself gevat het
 
 
 en die geelvinkie wat sy dors kom les het by die waterbak.
 
 
 
 
 

Friday 17 May 2013

Uitgebid

Ek besef dit dikwels. Ek kom baie maal tot stilstand en dink daaroor na. Ek is jubelend bly en dankbaar daaroor. Ek het 'n goeie man gekry. Dis 'n seëning vanuit die hemel. Dis 'n skuilplek teen die koue. Dis soos heuning in my tee en konfyt op my brood. Dis 'n bonus.
 
Hy is sorgsaam. Hy sien dinge raak wat 'n mens nie sal dink 'n man sou raaksien nie: as my badskuim begin laag lê, koop hy 'n nuwe bottel en sit dit stilletjies in die badkamer neer. Al wat ek moet doen, is om die proppie oop te draai en dit te geniet. Gaan ek dorp toe en kom terug, wag die oop garagedeur vir my. Lees hy iets lekkers raak in die koerant wat hy dink ek van sal hou, deel hy dit met my. Smag ek na groente, gaan koop hy beet en wortels en brokoli en maak dit gaar met liefde in sy vingerpunte. Kom kuier die kinders, ry hulle nooit as te nimmer hier weg met leë hande nie: 'n stukkie vleis uit die vrieskas, 'n sakkie vol vrugte, 'n boek waarin hulle belang stel.
 
En kuier ons soms heerlik saam met vriende, sorg hy vir die pittige sêgoed, die grappies, die kwinkslae. Saamlag en saamhuil is mos deel van menswees. En dis alles maar genade van Bo.
 

Man + -nin 

Ek het jou lief soos die lig
van ‘n nuwe dag, oop en skoon
of soos die vaalbruin en koper blare
van die akkerboom dié tyd van die jaar
rustig, wagtend vir die dartelende dans
van soel somersonstrale deur groen blare
 
ek het jou lief soos die sagte vlerksleep van ‘n duif
wat êrens vanuit die blou bokant ons
op die agterstoep se dak kom neerdaal
 
Jy het my lief soos die klippe en kranse
teen die berghang, soos die skadu’s
onder die hardekoolbome,
soos die roep van ‘n vleiloerie,
die eerste reëndruppels op ‘n sinkdak
 

Ons liefde huppel in die son,
dit kniel in die koelte –
ons liefde hou nooit op nie,
dit dans oor die bergtoppe,

dit buig teen die wind
ons asem dit in
en ons lag 
Elizabeth Kendall ©
 
 

Sunday 12 May 2013

Die liefde vir tuinmaak

Van geslag tot geslag vloei dié liefde soos 'n sagte stroom water deur die are, dit lawe as mens moeg voel, dit troos as mens alleen voel. Dit salf enige gemoed. Dis inspirasie op sy beste. Dis tuinmaak!

 Met die winter op hande, is daar min dinge so lekker as om 'n mens steeds te verlustig in die wonderwerke wat die natuur ons bied. Kom kuier saam in my eersgeborene se tuin....hier groei  vetplantjies vol vrede en haar geliefde kat Kara vorm deel van die dekor...
 

 

 


 


 



 




 



 


 



 


 


 

 

Troos
Ek wil vir jou ‘n rietdakhuisie bou
 met woorde, keurig uitgesoek
 met deur en vensters wat kan sluit
 om rowers van jou vrede uit te hou.
 ‘n Rystoel, waar die sonlig val
 waar jy kan skommel, tyd verwyl

 met boeke lees, of rympies maak
 of sommer heeldag oop-oog droom
totdat jy weer teen skemer uur
 ‘n vetkers aan die brand moet steek.
 Ek wil vir jou, diep in ‘n bos
 ‘n kalm, knusse skuiling skep

 waar niemand ongevraagd oortree;
 met dennegeur en voëlgesang
 as troos, totdat jy ophou treur.
 ‘n Kruietuin plant ek vooruit

 met roosmaryn en wilde als
 hartkruid, wynruit en soet jasmyn
 en knoffel om die bose te besweer.
 Ek wil hiermee dan elke dag
 ‘n kruiedrankie vir jou meng

 totdat jou lag weer helder klink
 jou oë blink, jy fier kan staan.
 Ek wil vir jou ‘n sonstraal vang,
 dit stralend om jou hoedband bind

 sodat, wanneer finaal genees
 jy weer alleen, jou weg kan vind.
Madeleine Spies Eilerd ©



 



 



 

 

 

 

Monday 6 May 2013

Maandag se mooi nuus!

Ek word altyd vroeg wakker. Noudat dit winter is en 'n bietjie later lig word, kry ek dit wonder bo wonder reg om 'n halfuur meer slaaptyd te geniet. Die oggendstiltes is salig. Nà my stiltetyd kyk ek gewoonlik wat lê en wag in die e-posbus.
 
Vanoggend kry ek 'n heerlike verrassing! Twee jaar gelede het 'n man met die naam Peet du Toit my genader om van my gedigte te gebruik in 'n boek wat hy toe beplan het om te publiseer. Ek het dit nie vergeet nie.
 
Vanoggend kry ek 'n brief waarin hy met blydskap aankondig dat die boek:
Skottel en Spens. Stories, verse en resepte uit die Afrikaanse koskultuur uit Singapoer aangekom het, waar dit gedruk is en dat dit tans afgelaai word in die Durban-hawe. Verdere goeie nuus is dat teen die einde van Mei met my verse Kos is op die tafel, My Taal en Bestemming  in die handel beskikbaar te wees.
Só gaan dit lyk:
 
 
Om meer hiervan te wete te kom, kyk gerus na die webblad:
www. duto.co.za
My gedigte:

Kos is op die tafel
Jy maak vir ons bobotie in ons groen kombuis
met kerrie en borrie, amandels en peper
en suurlemoensap wat nat druppels
aan jou vingerpunte hang

Goeie, gawe geure kuier en klou
hier waar ek sit en versies skryf
en ek sien my Ma op haar agterstoep staan
blou voorskoot aan langs die krismisrose

tafel gedek
al drie haar kinders op hul plek
roep sy ons Pa om te kom eet

dis lankal terug se weet

Toe ek aan tafel sit langs jou
het ek my gisters vredig opgevou
verwonderd oor die geel kombers
op die heerlike dis:

dis mos wat liefde is
***


My taal

Soos ryp appels in my hande

wil ek die woorde van my taal

vashou en blinkvryf

knarsend kou en

luister na die klanke

helder, oop en mooi

so heerlik
appelbloedbloedrooi

my taal waarin ek troos

my taal waarin ek bid

dié taal wat kruisbeen

in my binnekamers sit
 
***
 
Bestemming
 
Kom klim in en ry saam met my
tot waar die pad sy stertpunt kry
waar die werfhaan smôrens vroeg
'n nuwe dag oopkraai
waar stokrose teen die wind
'n staanplek langs die wit muur vind
en op die groot ou stoep
'n litroos in die drom
helderpienk en hoopvol blom
 
waar mens die reuk van grond kan proe
en in die warm kombuis
'n vetkoek eet met stroop
wat taaisoet toue tap
as Ma teen twaalfuur
haar voorskoot eenkant gooi
haar liewe hande om die kos
haar man, bruingebrand en sterk
honger van die dag se werk
die kinders: welgeluksalig-bly
wag vir Pa se seëngebed
 
kom klim in
 dan wys ek jou hoe lyk liefhê en vertrou
in eenvoud uitgespel
 
op die plaas doer duskant ver
slap links verby die môrester
 
***
My hart sing sy eie blyweeslied op hierdie Maandagmôre. Dankie vir talente, vir die vreugde om te deel, dankie vir menswees!
 
 

 


 

Saturday 4 May 2013

Tien wense


Onlangs op Nella se gedigteblad Versvreugde en Woordgenot het ons sommer vir die lekker tien dinge genoem wat ons graag sou wou wens. Dinge wat ons wou waar maak. Ek het nie lank gesukkel om 'n lysie te maak nie. Dit het so gelyk:
 
Tien wense:
1. Eers te luister, dan te praat.
2. My miniatuur worsie Brakenjan mooi groot te kry.
3. Elke dag iets moois te sien en te waardeer al is dit net 'n kwikstertjie wat beweeg as hy staan en staan as hy beweeg...
4. Sommer net weer kind te wees en tyd maak vir lekker stuitighede soos "drumming" by Klitsgras of 'n paar teelepels grondboontjiebotter eet as niemand kyk nie of heeldag kaalvoet loop, niks grimeer nie en bly te wees oor elke nuwe grys haar wat blink in die laat herfsson.
 
5. "Mors" met verf en paletmes vir drie dae aanmekaar sonder onderbrekings / regtig iets ernstigs mooi skilder waarby mense gaan stil staan en na hul asems snak...hoendervleis kry! ( en dit koop, glimlag)
6. Meer en beter verse uit die grysstof uit opdiep en deel met wie ookal...waar ookal.
7. Zoeloe ordentlik leer praat..nie net Ngiya bonga en Nkosikasi en umfana nie.
8. Weer 'n fliek sien wat my laat huil en lag en vir ewig laat onthou hoe wonderlik menswees eintlik is.
9. My man en kinders, myne en syne en ons families en vriende en kennisse en elkeen wat hier lees, elke dag VREDE te laat ervaar soggens as die dag begin tot saans as die son gaan slaap en dwardeur elke donker nag en droewige ervaring te weet: jy is nooit alleen nie. Hou vas en bid.
10. Wêrelde en plekke te sien wat ek nog nooit gesien het nie, hier of oor die waters. Maar veral ook Namibië se polsslag te ervaar iewers langs 'n braaivleisvuur saam met Chrisman. 
 
Toe ek later al die ander se wense lees, het ek weer besef hoe uiteenlopend mense is. Hoe vreeslik verskillend. En ek het aan al die dinge gedink wat ek nog graag gedoen sou wou kry:

1. Nog 'n digbundel die lig laat sien of dalk sommer net 'n koffietafelboek met van my kuns en verse in. Al is dit net een. (dis nogal duur...)
 
2. Die tuin goed laat bemes in Augustusmaand as die ergste winterkoue die wyk geneem het. En vir die rose baie lief te wees, gereeld kos en genoeg water te gee en met hulle gesels as die dag begin. 
 
3. Leer hekel, soos in regtig. Nie net blokkies nie, maar iets moois. En nie te maak of ek dit geniet nie, maar dit regtig doen!
 
Die ander wense bêre ek vireers, hierdie drie hierbo moet eers waar word!