Showing posts with label herstel. Show all posts
Showing posts with label herstel. Show all posts

Saturday 29 August 2015

Die jongste nuus

Dis eers toe ek binne is, dat ek die gevoel kry dat dit dié keer anders is. Ligter. Sommer baie ligter. Weg is daardie vorige besoeke se vasdrukgevoel van kan-nie-asem-kry nie. Maar ons weet nog niks. Geduld hang soos 'n swaar gordyn tussen ons en die blymaakkkonsert. Tog glo ek. Hy ook. En ons wag.
Hulle roep hom vir die "scan". Ek, immers aan sy sy, hoe dan nou anders?  Hy trek die donkerblou jurk aan, verdwyn saam met 'n jong dingetjie in 'n vertrek vol mediese apparate. Gaan lê op sy rug op die smal bedjie. Self ook maar smal en baie bietjie nà 'n hele jaar se chemos en bestralings.
Toe dié prosedure klaar is, gaan wag ons vir die dokter. Hy sal sê. Ons lees laasmaand se tydskrifte, rek bene buite in die lenteson, kyk hoe die vinke nesmaak in die koorsbome, knoop geselsies aan met bekendes. Ons wag. Niks bekommerd nie.
Nà 'n uur of wat mag ons die hemelpoorte binnegaan. Juig! Die mooie dokter groet met 'n stewige handdruk. Ons wissel 'n paar onnodige woorde, kan nie gou genoeg by die "million dollar question" uitkom nie: "Hoe lyk die verslae, dokter?"
Toe hy dit sê, voel ek hoe my oë van agter af warm word, vol word. As ek dit sou knip, sou die blyweestrane bo-oor die tafel spat. "Alles lyk goed. Alles lyk reg! Bloedtoetse reg. Geen snaaksighede nêrens nie, alles mooi!" Hoera, hoera! Prys die Here! Elke klein en groot gebed is verhoor. Jubel en juig.
Toe ons buite kom, plak ek 'n soen op my man se mond. Ons lag die lentedag mooier. Nou net vorentoe kyk.
By die winkelsentrum aangekom, parkeer ek bo en moet ons noodwendig van die roltrap gebruik maak om te kom waar ons wou wees. Vir twee dinge in hierdie lewe is ek, noem dit maar "skrikkerig": 'n hotnotsgot en 'n roltrap. Moenie eers vra hoekom nie. Mens mag mos maar vir so min goed bang wees. Ek is.
Ek mik en trap soos altyd in die verlede (soos nog voor Chris deur al sy driwwe en dale moes gaan) en daar gaan ek. Af met die roltrap. Toe kyk ek om. Nooit! Daar staan my man, heelbo. Verlore. Hy mik-mik. Sy hele lyf huiwer. Onlangse onkologie hang oor sy onseker bene en arms. Paniek pluk aan my hart. 'n Vreemde vrou wat boontoe roltrap ry, sien my angs. "Ek sal hom help," sê sy soos 'n engel-uit-die-hemel. Die roltrap rol my al verder en verder weg van my hartsmens daar bo. Ek bly omkyk. Kon ek maar in ‘n soutpilaar verander! Bid hardop: "Moet asb. net nie nou vorentoe tree nie, my lief!" In my gedagtes sien ek al hoe hy holderstebolder van bo af aftuimel en stukkend breek.
Net toe is die vrou by hom, langs hom, teen hom. Hy hou aan haar skouer vas en kom soos 'n Kersfeespresent na my toe aan. Sela. Nog 'n keer dankie, dankie, dankie.
Dit was gister. Vandag loop ons grondlangs, ons harte op die heelboonste roltrap van die lewe.

29 Augustus 2015. 

Sunday 2 November 2014

1 November 2014

“Dis alles nuwe ervarings vir ons,” sê jy later op jou geduldige manier.
Nà die groot skrik van jou onverwagse "inmekaarsak" op ons huis se plankvloer vroegoggend, stort ook my skanse ineen. Ek lê onbeskaamd en huil langs jou.

Gister het jy die vyfde chemo gekry, die baie medikasie van die afgelope tyd was seker net te sterk. Toe jy opstaan, kon jy nie loop nie. Jou hele wêreld het gekantel. Ek het probeer help, daarin geslaag om jou met groot moeite terug op die bed te kry. Nà ‘n ruk wou jy toilet toe gaan. Voor die deur verloor jy beheer. Ons liggame hang aan mekaar soos weerlose riete in ‘n stormwind. Ek probeer keer en jy beur en buig. Ek bid teen jou nek, fluisterende smeekbedes. Die aarde trek jou af, af. Ek hou my hande bak agter jou kop sodat jy nie seer moet kry nie. Jy lê plat en hulpeloos op die vloer aan my voete. Jou oë glaserig. Die skrik wil my versmoor. Net toe stuur die Here twee engele na my huis toe. Die voordeurklok lui. Daar staan Sally en haar groot, sterk man. Hulle kom in, hy tel my Chrisjan op asof hy ‘n duifveer is, sit hom sag op die bed neer.

Die res van die dag was baie rustig. Ek het jou soos goud opgepas. ‘n Bakkie hawermoutpap, ‘n glas Ensure, ‘n koppie tee, ‘n sny sagte melktert. Die brand in jou bors maak dat jy nog gladnie growwe kos of selfs gewone kos geëet kan kry nie. Dis deels ook toe te skryf aan die chemo, sê Carin wat dié klipperige paadjie ook al geloop het. Hoe bemoedigend om met mense soos sy te kan praat, mense wat wéét van vrese en worstelinge wat gepaard gaan met kanker.

Toe dit skemeraand raak, hou ek my lyf Florence Nightingale, versorg jou naels, hande en voete, jou tenger lyf. Wit Dove seep. Sag. Louwarm water in ‘n enamel skottel, ‘n groen handdoek onder jou. Lyfroom en hakskeenroom. Aanrol onder jou arms. Jou blou T-hemp, blou soos jou oë. Blou soos God se hemel.

Ek het buite langs die fontein gaan sit, na die honde gekyk wat op die gras speel.  Gebid. ‘n Hanna-in-die-tempel-bid. Trane en woorde gemeng.  God se liefde en Sy vrede het my weer krag gegee.