Showing posts with label hulp. Show all posts
Showing posts with label hulp. Show all posts

Tuesday 6 March 2018

Wat is in 'n naam?


Name kan so interessant wees. Name van mense, plekke of dinge. Name van diere, bome, plante. Allerlei name. Dit vertel iets, dit gee kleur, dit maak dat mens beter verstaan.

Buite die munisipale kantore staan motors van hier tot in Timbuktu. Mense met klagtes en navrae en probleme, hulle sit in rye binne die gebou. Party kou kougom. Party sit net en wag.

Om gehelp te word, moet mens eers die boek teken. Hoe laat gaan jy in, hoe laat gaan jy uit. Dan beduie die man in watter rigting jy moet loop om jou  probleem aan te meld. Lang, oninteressante gange. Niks moois teen die mure nie. Geen groen plante of sagte matte om die kil kantore op te helder nie. Jy stap, dan draai jy regs, dan weer regs. Tot jy by ‘n oop kantoordeur instap aan die einde van die gang. En daar sit sy.

Sy lyk moeg. Groot oë en hoë wangbene, skraal gesig sit sy agter die rekenaar. Om haar lê gister en eergister en laas maand en môre se werk in lêers en stapels papiere oral op die lessenaar.

Toe dit jou beurt is, verduidelik jy jou storie in Engels, die wêreldtaal. Sy praat stadig. Stadig en geduldig. Sy doen dit elke dag. Sy help jou mooi. Sy gee raad. Ver voor in jou eie wapad sien jy ‘n liggie flikker.  Haar naam is Charity.



Sunday 2 November 2014

1 November 2014

“Dis alles nuwe ervarings vir ons,” sê jy later op jou geduldige manier.
Nà die groot skrik van jou onverwagse "inmekaarsak" op ons huis se plankvloer vroegoggend, stort ook my skanse ineen. Ek lê onbeskaamd en huil langs jou.

Gister het jy die vyfde chemo gekry, die baie medikasie van die afgelope tyd was seker net te sterk. Toe jy opstaan, kon jy nie loop nie. Jou hele wêreld het gekantel. Ek het probeer help, daarin geslaag om jou met groot moeite terug op die bed te kry. Nà ‘n ruk wou jy toilet toe gaan. Voor die deur verloor jy beheer. Ons liggame hang aan mekaar soos weerlose riete in ‘n stormwind. Ek probeer keer en jy beur en buig. Ek bid teen jou nek, fluisterende smeekbedes. Die aarde trek jou af, af. Ek hou my hande bak agter jou kop sodat jy nie seer moet kry nie. Jy lê plat en hulpeloos op die vloer aan my voete. Jou oë glaserig. Die skrik wil my versmoor. Net toe stuur die Here twee engele na my huis toe. Die voordeurklok lui. Daar staan Sally en haar groot, sterk man. Hulle kom in, hy tel my Chrisjan op asof hy ‘n duifveer is, sit hom sag op die bed neer.

Die res van die dag was baie rustig. Ek het jou soos goud opgepas. ‘n Bakkie hawermoutpap, ‘n glas Ensure, ‘n koppie tee, ‘n sny sagte melktert. Die brand in jou bors maak dat jy nog gladnie growwe kos of selfs gewone kos geëet kan kry nie. Dis deels ook toe te skryf aan die chemo, sê Carin wat dié klipperige paadjie ook al geloop het. Hoe bemoedigend om met mense soos sy te kan praat, mense wat wéét van vrese en worstelinge wat gepaard gaan met kanker.

Toe dit skemeraand raak, hou ek my lyf Florence Nightingale, versorg jou naels, hande en voete, jou tenger lyf. Wit Dove seep. Sag. Louwarm water in ‘n enamel skottel, ‘n groen handdoek onder jou. Lyfroom en hakskeenroom. Aanrol onder jou arms. Jou blou T-hemp, blou soos jou oë. Blou soos God se hemel.

Ek het buite langs die fontein gaan sit, na die honde gekyk wat op die gras speel.  Gebid. ‘n Hanna-in-die-tempel-bid. Trane en woorde gemeng.  God se liefde en Sy vrede het my weer krag gegee.