Showing posts with label troos. Show all posts
Showing posts with label troos. Show all posts

Friday 25 August 2017

My wêreld

Voor dié winter begin het, het sy yskoue vingers alreeds my keel toegedruk en het ek gewonder hoe op aarde gaan ek vrou-alleen dit regkry om deur 'n maandelange grou-grys winter te kom. Maar ek het! Die winter is besig om sy koshuiskomberse op te pak en anderland toe te trek. 

Ek het omtrent 'n jaar laas geblog. Miskien het my woorde opgedroog. Miskien was niks-sê-nie 'n manier om deur 'n dag te kom. Miskien wou ek maar net eers mooi dink voordat ek praat. 

Want amper soos in "Blok jou!" het my hele lewe sedert September 2016 verander. Ek was broos en stukkend. Ek moes myself van vooraf leer ken. Ek moes leer hoe om alleen reg te kom. Hoe om nie toe te gee aan selfbejammering en negatiewe denkpatrone nie. Hoe om iets raak te sien wat kleur aan 'n dag kan gee. Ek moes weer leer glo en hoop en vertrou.  

Dwarsdeur al elf maande wat nou al verby is sedert my geliefde Chris se dood, het my bietjie familie, vriende en vriendinne my gedra, gehelp, bemoedig. Die voëls in my tuin het gebly. My kinders het wonderliker geword as wat hulle ooit voorheen was. My kleinkinders het my ge-oumie en geliefie. En die Here het vir my gesorg. Bo alles. Elke dag. 

Ek het my hele huis laat verf, binne en buite. Skoongewaste gordyne in elke vertrek, die mure net 'n titsel donkerder as spierwit. Die hele huis staan oopgesig en lag vir welkom besoekers. Alles is vars en flatervry. En ek alleen kon dit regkry. Hoera! Ek het my twee yskaste (een 'n vrieskas) ingeruil op 'n splinternuwe, kleiner yskas wat minder krag verslind. Ek moet krag probeer spaar, die rekening moet krimp. Ek het planne. 

O, ek het darem verse geskryf, dit gepubliseer op my fb-blad: Verse en vrolikhede. Dikwels hartseer woorde wat trane trek en simpatieke meegevoel uitlok. Op 'n manier het dit tog verligting gebring, maar ek het nie baie daarvan gehou nie. Ek wou so graag liewers net weer vrolik wees. Jare der jare gelede het my ma mos gesê: "Jy kan bly wees jy het so 'n vrolike geaardheid, my kind!" Min het sy geweet hoe droewig ek sou word.  

Ek dink die belangrikste ding wat ek die afgelope (amper) jaar geleer het is om net myself te wees. Soms kon ek gladnie my emosies beheer nie en het spontaan gereageer op iets wat 'n herinnering weer laat oopvlam het. Dan wou die vuur daarvan my verteer. En dit was goed. Ek weet ook nou dat verlies en verlossing nie in een asem gesê kan word nie. Ek besef ook dat die seer altyd sal bly, dat ek daarmee sal saamleef, saamhuil, saamlag. En dat dit nie saak maak nie. Ons lewe maar een maal. Herinneringe is 'n goue draad wat deur elke dag verweef word. 'n Kosbare kleinood.  

Gister in die tuin, kamera in die hand, het iets moois in my binnekamers gebeur, sonder dat ek daarvoor gevra het. Of het ek? Ek het nie net gekyk nie. Ek kon weer sien hoe mooi dit hier om my lyk. Al was hy nie meer hier nie. Die appelkoos- en perskebloeisels het glimlaggend aan hul dun takkies gehang. Die hemel was blouer as ooit, wyd en oop. Ek was bewus van God se groot genade. En ek het geweet ek kan Hom vertrou met my onbekende toekoms. 

Skielik het ek weer my ma se "vrolike kind" geword, sommer net so!  
  

Een van my verse:

26 Aug. 2017

Ek het aan jou gedink
toe jasmyn in pienk en wit
baldadig-bly oor die heining tuimel
toe appelkoos se eerste bloeisels
blosend aan dun takkies swaai
ek het aan jou gedink
toe geelgroen glasogies
vrolik van tak tot tak vlieg en fladder
toe tortel troosteloos sy solo sing
en heimwee in my hart en oë bring
ek het aan jou gedink
toe ‘n nuwe dag die dorp oranje inkleur
toe kleinkinders met blink oë en baie lag
kom hallo sê
 ek dink nou aan jou,
nou en elke dag

Elizabeth Kendall ՙ©






Wednesday 6 August 2014

Nawinter.

3 Aug. 2014. Sondagmiddag. Dis stil. Net ek en my gedagtes. En jy speel die hoofrol. My liefste Chris. Hoe het hierdie ding gebeur? Tumor, bestraling, biopsie….nuwe,  ou woorde wat net na ons toe aangehardloop gekom het die afgelope dae, ongevraagd. Woorde wat mens eintlik nie wil hoor nie, maar dié keer het jy nie ‘n keuse nie.  Woorde wat ons nader na God bring, want nader na mekaar, dink ek kan ons nie. Ons het mekaar lief en ek bid vir jou die beste. Ons  glo vir jou die beste.

6 Aug. Gistermiddag het ons onder die kaal perskeboomtakke gesit. Dun vingers wat in die lug rond gryp bokant ons koppe.  Ons het gepraat oor “wat as” en “waarheen” . “Ons moet daaroor praat,” het jy ernstig gesê.  Ek het my trane weggevee en geluister, al wou ek nie.
Vanoggend lees ons saam Psalm 23: “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil  vrees nie, want U is met my.” Ons hou hande vas. Ons bid. Ons weet ons is nie alleen nie. Dié wete is ‘n krag-inspuiting, ‘n anker, ‘n troos.
Nà elke winter kom die somer. Mag ons sààm nog baie somers beleef.

Saturday 9 June 2012

Een van die heelmooiste woorde in Afrikaans, is die woord TROOS.



Troos is ‘n vyfletterwoord -
 vyf  vingers aan  een hand
 een hand wat joune vashou,
 één warm hand wat oor jou skouer  kom vlerk
‘n toemaarkombers teen koue en pyn,
 fluister  vrede  en vreugde
teen elke donker deurkosyn

Daar is troos in die warm boontjiesop
wat jy vir ons maak as die koue deur die sleutelgat klouter
 en teen my bene kom opklim…

Troos lê jou oë vol
as jy my help onthou
 aan al die dinge wat ek
so vreeslik vergeet

Troos is ‘n vyfletterwoord,
‘n koesterwoord

Troos is jy
Elizabeth Kendall ©