Friday 10 June 2016

Nostalgies en nou

Ek ken haar en ek ken haar nie. Annelie van die Laerskool. Oulike juffrou. Sy bel my om te vra of ek op 8 Junie van dese jaar bereid sal wees om Gr. Eens, twees en dries te kom help beoordeel. Dit is redenaartyd by die skool. “O jaaa!” dink ek onmiddellik, gedagtig aan die wonderlike tye toe ek self deel van die skool se “meublement” was. Dit behoort lekker te wees. Gewapen met pen en inskrywingsvorm, ry ek skool toe. Oorkant die yslike, oeroue plataanbome langs netjies opgeknapte asbesgeboue wat eens op ‘n tyd ‘n koshuis was, gebeur dit. Ek sit tjoepstil in my kar en staar voor my uit terwyl die fliek in my kop begin draai. My ma werk as sekretaresse in die skoolkantoor. Dit is 1956. Ek is in St. 1. My ligbruin hare skuinspaadjie geborsel en met ‘n knippie vasgesteek. ‘n Draadheining en sementpaadjies, vaal wintergras en wit ryp soggens vroeg. Later louwarm son onder die groot bome, ‘n heerlike speelplek vir kinders. Ons krap ons voorletters en dié van ons kammakastige kêrels uit op die wit boomstamme. E.G. loves J.d.V. of andersom. Netjies in ‘n hartjie. Vir ewig en altyd. Ons oë en monde vol heerlike kindergeheime. Op ‘n dag sny ek my voet toe ons wegkruipertjie speel. Hoekom het niemand die sinkplate wat langs die gebou lê, weggevat nie? Ou dr. Roos doen knap naaldwerk met drie steke. ‘n Yslike gebeurtenis vir ‘n dogtertjie wat altyd veilig en beskermd voel. Ma was altyd iewers naby. Dié wete ‘n warm troos dwarsdeur my laerskooljare. Eensklaps gryp die besef van verbygaande tyd my vas. Wat ek sopas onthou het, voel soos gister. Toe Juffrou Carmie my later in die skoolsaal aan die jong mammas en pappas bekend stel, sê sy met oortuiging: “Dié tannie het jaaaaaaare gelede hier skoolgehou!” Sy het nie geweet van die jaaaaaaaaaare gelede wat ek hier skoolgegààn het nie. Nietemin, die kleingoed se praatjies is pragtig. Hul woordeskat fenomenaal. Genoeg selfvertroue. Hier en daar enetjie wat te sag gepraat het of te vinnig. Sekerlik ook maar vol senuwees en bewerasies. Dit is ‘n tameletjie vir ‘n klein mensie om voor ‘n saal vol grootmense te staan en redeneer. In ons dae het sulke dinge nie bestaan nie. Ons het niks geweet van woorde soos “hiperaktiwiteit, kommunikasie of www. mieliestronk.co.za” nie. Ek sit my en verluister. Alles het verander. Tog bly ouers altyd ouers. Ek beloer hulle van agter af terwyl hul kosbaarste besittings praat. Liefde en omgee en betrokkenheid is oral te sien. Pryse word uitgedeel, gesiggies straal. Bekendes groet en kuier. Dis amper skemer toe ek huistoe ry. Ek het vergeet om te kyk of ons voorletters nog op die ou plataanboom se stam staan, maar vandag het ek baie hartjies vol liefde beleef. Dankie daarvoor!
Elizabeth Kendall ©


Monday 22 February 2016

Die pasellas in die lewe !

Op facebook behoort ek aan die heerlikste en interessantste gedigtegroep nl. Versvreugde en Woordgenot. Ronell Marais is die "skeepskaptein" en met haar liefde vir Afrikaans, aansteeklike humor, spontane en liefdevolle geaardheid en lus vir die lewe, maak sy dit vir almal wat deel is van dié blad 'n tierelier-plesier sonder einde! 
So was dit ook vir my 'n heerlike verrassing om gister te sien hoe sy in die blad se argiewe gaan rondgrawe het en op dié onderhoud afgekom het wat drie jaar gelede gepubliseer is. Ek deel dit graag met almal wat wil saamlees. Daar het so baie gebeur die afgelope drie jaar in ons lewe, maar feit bly staan: elke dag bly en is steeds 'n geskenk uit God se hand. 


VEERTIEN VRAE MET ELIZABETH KENDALL (Versvreugde en Woordgenot) – Des. 2012.

1. Liefste Elizabeth, vertel ons eerstens van jou wortelwêreld en jou geliefdes.
Eers net dankie sê vir die wonderlike eer om te kan deel op “Nella se blad”, ‘n allerlekkerste lees-en verdwaal-in-woordeplek! Baie dankie Ronell, ek voel geëerd.


Ja, wortelwêreld is dit beslis! Bronkhorstspruit. Hier aangekom uit Johannesburg toe ek vier jaar oud was, op ‘n plaas gebly tot ek elf was en toe in die dorp in hierdie huis waar ek nog steeds woon. Bus gery skooltoe en my vergaap aan die Matriekseuns se welige beenhare! Ek was ‘n skaam kind gewees. Gelukkig het ek later besef dis BAIE lekker om te kan praat.
Ons wou onlangs verhuis na Die Oog Aftree-oord in Naboomspruit, was totaal in vervoering oor die plek en toe kry ons dit nie reg nie. Nou is ons tevrede en baie rustig. ‘n Mens verplant nie so maklik ‘n ou boom nie!
My geliefdes, my naby-mense is vanselfsprekend Chris. My man en maat en kosmaker! Een van my eerste vrae aan hom toe ons sestien jaar gelede ontmoet het, was: “Kan jy kosmaak?” Toe hy “Ja!” sê, het sy aandele natuurlik hemelhoog gestyg…. hy is ‘n omgeemens, ‘n steunpilaar. Ek lief hom ernstig. Hy het my heelgemaak toe ek versukkeld en maer en bitter broos was. Ek dink nie ek kan genoeg dankie sê dat die Here hom vir my gegee het nie. Toe my Pa nog gelewe het, het hy altyd gesê hy bid dat ek ‘n goeie man kry. En dit het gebeur. Chris is “uitgebid.”
En natuurlik al my kinders en ons kinders: myne en syne, (ons was toe al te “oud” vir “ons s’n!” ) Ek het vier en hy het twee. ‘n Hele huisvol! Saam het ons nege kleinkinders, elkeen uniek en wonderlik….mos!

2. Waar is jou hart se punt?
My hart se punt(e) lê ons hele mooi land vol: die Weskus, die Bosveld, die bergwêreld van Magoebaskloof en sommer ook net hier onder my Ma se akkerboom.

3. Wat is die dinge wat jou seën?
Die natuur en al die wondelikhede wat daagliks voor my oë kom staan: ‘n duif by die waterbak, klein dingetjies, erkenning wanneer mens dit die minste verwag. Liefde.

4. Hoe bederf Elizabeth haarself?
Ek “verdwyn” van die aardbol af, luister na mooi musiek, skilder….veral met die paletmes. Kan dit vir uuuuure doen, salig!

5. Hoe skep jy asem?
Drink chai-en-rooibostee met ‘n  teelepel heuning daarin onder die karee en kyk na die voëls in die tuin, kamera in die hand! Of ons klim in ons Polo en ry net…..bosse toe, berge toe. Selfone en rekenaars af!

6. Jy is so ‘n kreatiewe gees. Vertel ons van al jou kreatiewe ysters in die vuur… (ek weet jy kan skryf, skilder, tuinmaak, foto’s neem en dies meer…)
Ek moet besig wees. Anders word ek oud! Glimlag. Ek en Maree Clarkson (sy het ‘n tyd gelede na een van my kunsuitstallings hier in die tuin gekom en woon in Tarlton) het ‘n groep op die internet (RedBubble) gestig genaamd AFRIKAANS. Hier speel ons lekker: ontvang foto’s, kuns en soms ook skryfwerk van ons lede, hou uitdagings en ek doen eenmaal per maand ‘n “Sondagsiesta”. Dan “steel” ek al die talentvolle digters wat ek al in my lewe in lewende lywe of op die internet ontmoet het, se lieflike gedigte en stal dit uit vir die hele wye wêreld om te lees en te geniet! En dit gaan maar alles net oor my groot liefde vir ons taal.
Hier is die skakel as julle wil gaan loer!
Ek skryf soms ook op my blogs: Kreatiewe Joernaal, Speel-speel, Lizzie loves painting! en hier kan jy my skoolhoustories kom lees, alles WARE verhale: Stories uit my skooltas

7. Watter kleure tref mens aan op jou palet van vreugde?
Groen, groener, groenste! Soos bome. Jy sal mos verstaan.

8. Jy is so geliefd…waaraan sou jy dit toeskryf?
Ai Nella. Genade. Net genade. Dis nie moeilik om vir julle lief te wees nie!

9. Wat is volgens jou die diepste put van ellende?
Om niks te kan hê om na uit te sien nie….om sonder hoop te moet lewe.

10. Hoe maak Elizabeth haar wêreld ‘n beter plek?
Ek leer baie by Chris. Hy deel graag. Ek probeer ook….omgee vir ou mense, vir alleen-mense. Regtig belang stel, nie net bolangs nie. En ja, as ek dalk miskien wil-wil onvergenoegd voel, dan dink ek maar aan al die seëninge wat daagliks verniet voor my deur kom lê: gesondheid, ‘n sin vir humor (‘n dag sonder ‘n lag is ‘n verlore dag!) en nog vele meer.

11. Wat beteken Desembermaand vir jou? Is jy ‘n feestydmens?
Desember het sy eie woorde: afskakel, rus, oordink…. saamwees, kuier. Dis ‘n groot present om saam met kinders te wees op Kersdag (veral) en ja, hierdie jaar gaan ons by seunskind en my Engelse skoondogter kuier en dit so geniet. Vir hulle ‘n eerste Kersfees in S.A. nà baie jare in Engeland. Spesiaal.

12. Hoe lyk ‘n tipiese dag in die lewe van Elizabeth?
Taamlik rustig op dié stadium: of in die tuin aan’t vroetel of hier voor tussen die verfpotte en as die muse my per geluk beetkry: tussen die woorde. En o ja, in die nuwe jaar ook weer baie betrokke by ons plaaslike VLU. En dis nie net vir ou tannies wat hekel en koekies bak nie. Dis regtig lekker en ons doen heerlike en inspirerende dinge.

13. Wat verkies jy – see of bos, rooi of blou, vanilla of aarbeigeur, tee of koffie, prosa of poësie, introverte of ekstroverte, potjie of braai, blond of brunet, soet of sout, stap of huppel?
Sjoe! See EN Bos. Rooi….pure lewe! Blou: wanneer ek “sag” voel…. Tee, so 2x per dag! Koffie: soggens voor die dag begin, ruik hemels! Introverte: ‘n uitdaging om hulle aan die praat te kry. Ekstroverte: mal oor hulle! Potjie: beesstert , njammmmmm! Braai: niks soos ‘n lekker braai en kuiers-vir-ewig nie! Soet of sout: liewers sout….was lank genoeg “soet”! Stap en huppel! Die lewe is ‘n lied.

14. Wat is die mooiste woorde wat jy in jou hart koester?
Daar is so baie…. Toe my oorlede Pa vir my gesê het: “Sussa, jy moet jou sleutels onthou my kind!” (hy het my o.a. verantwoordelikheid geleer)
Toe Chris vir my heel aan die begin van ons verhouding sê: “I could have drown dead!” ……gaan nie verduidelik nie….
Toe my kind op fb sê: “My Ma, ek is so bly oor jou!”
Toe my kleinkind sê: “ Oumaaaaa, wanneer verf ons?”

15. Wat was die hoogtepunt in jou lewe?
Die dag toe ek besef het God het my gebede verhoor.

16. Hoe bly jy so jonk? (Nie dat jy oud is nie…)
Oe, dankie…..ek’s aankomste jaar 65! (soos die oumense sou seg!)
Ek gee oor. Ek probeer nie meer “self” alles regkry nie. Die Here sal my help en krag gee, elke dag. Vir ons almal. Glo dit net.

17. Gee ons ‘n boodskap van hoop, liefde en vreugde om in ons harte te bêre…
Hoop: Moenie ophou droom nie. Nooit. ( Ek het al klaar ‘n droompie reg vir 2013…..)
Liefde: Wees jouself. Almal verskil. Wees wie jy is. Maak jou oë oop, daar is baie mense om jou wat net één woord nodig het. Gee dit vir hulle. Dit kom tienvoudig terug na jou toe…op ‘n vaal dag as jy dit nodig het. Wag net.
Vreugde: Lag! Lag baie. Word weer ‘n kind. Kyk met nuwe oë na ou dinge.


Tuesday 19 January 2016

'n Kuiertjie

Sy het gister kom kuier. Tannie Ina met haar wit karretjie. Sy stop onder ma-se-akkerboom voor ons huis. Klim tydsaam uit. Sy is al verby tagtig, maar nog jonk van gees. Ek is dadelik bly toe ek haar sien. Party mense maak mens mos so "dadelik bly!" Sy is een van hulle. Van lankal af. Ek ken haar vandat ek vier jaar oud is en ons op die plaas Onverwacht gebly het. As ek haar sien, onthou ek Pa se mielielande en komkommers, die waatlemoene op die groot lorrie en my boeksak van Graad een. Ek onthou die skoolbus en die Hoërskoolseuns se beenhare as hulle verby my skuur. Ek onthou my ouboet op sy fiets en kleinsus in haar stootwaentjie. Dit was lank, lank gelede toe ek nog 'n kind was.

Tant Alie en oom Kerneels was ons bure en 'n foto van tannie Ina, hul dogter, waar sy graad kry, het in hul gang gehang. Ek kon my toentertyd verkyk daaraan. Sy was vir my die mooiste mens op aarde. Blonde hare in 'n rol agter-op haar kop gedraai. Blou oë vol drome.
Van toe af ken ek haar. Toe sy binnekom, gaan maak ek vir ons tee. Rooibos. Lekker. Ons sit langs die rondawel. Die honde lê by ons voete. Heerlik gesels ons oor ditjies en datjies. Later kom Chris by. Korswel en maak grappies. Ons kyk tuin. "Sussa, jy het 'n groot plek, jou tuin is mooi!" Ag ek geniet tog so die grond en die plante en nà die heerlike onlangse reën klap die hele tuin hande van blydskap.
Ons kuier so lekker.

Toe sy loop, sê sy: "Dankie my kind!" 'n Heerlike gevoel van groot blydskap kriewel langs my ruggraat af. Wanneer laas het iemand my "my kind" genoem? Hoe salig is dit nie om dié woorde aan te hoor nie. Dis mos toevouwoorde, omgeewoorde, liefhêwoorde. Die lewe is mooi. Mag ek nog lank "n kind" bly!


Saturday 9 January 2016

Ek dink mens noem dit omgee.

Aan die Weskus by Lambertsbaai sit 'n digter sy vis en eet. Hy ruik die see. Hy gesels met die gawe vrou aan wie die restaurant behoort. Haar naam is Elsa. Die spyskaart val oop voor sy oë. Hy lees die woorde van 'n gedig.

 
Sy foon is byderhand. Op facebook stuur hy 'n boodskap. "Pieng!" sê my foon.

"Daar is drie van jou verse in haar spyskaart, sy en haar suster lees jou blog en lief jou verse."
 
Môre vlieg my ver-kinders weer huistoe. My hart ry skoppelmaai. Die Kaap is nie agter die eerste graspol nie. Ek waardeer my vriend se woorde. Ek waardeer Elsa en haar suster. Ek skryf dié mooiste storie nou op my blog. Ek dink mens noem dit omgee.